Kersfees kom!

Wat is Kersfees sonder “Pa rum pum pum pum”? Dié refrein maal al die hele week deur my kop nadat ek die bekende Kersliedjie “Little drummer boy” Maandag twee keer gehoor het – eers in die supermark en toe weer die aand op televisie. En ek besef … Kersfees is om die draai!

Met Kersfees wat nader kruip, kan ‘n mens nie help om ‘n innerlike vrede en vreugde te ervaar nie. Dit is ‘n tyd van gee en omgee. Ek praat nie van groot, duur geskenke nie, maar eerder van kommoditeite wat nié met geld gekoop kan word nie, soos tyd, gawes en talente wat jy met ander mense hierdie feesseisoen kan deel: ‘n Kuiertjie vir iemand in die hospitaal, ‘n blommetjie vir iemand in ‘n aftree-oord, ‘n bord tuisgekookte kos vir iemand wat honger is, of sommer net ‘n glimlag van dankbaarheid, hoop en liefde. God het juis Sy liefde aan ons bewys deur Jesus se geboorte in Bethlehem.

Die Kersboom se opslaan en versier hou ‘n bekoring van sy eie in … dink maar aan die bekende Kersfeeshuis in Pellissier, en ook ander pragtig versierde huise, wat elke jaar, kleurvol en hoopvol, die Blye Boodskap vertel. Of dit nou ‘n plastiek-winkelboom of die ware jakob is, ‘n kersboom is die bymekaarkomplek van geskenkies en babbelende, knielende kleuters wat nie kan ophou vat, ruik en skud aan al die blink pakkies nie.

Die Kersete is ‘n feesmaal op sy eie. Oukersaand is dit braaivleis en Kersdag kreun die tafel onder die verskeidenheid koue vleise en slaai … van hoender- of kalkoen- en varkvleis tot koue skaapboud en tong, mengelslaai, aartappelslaai en my oorlede Ouma se befaamde mosterdring. Elke Kersfees is almal se oë heelwat groter as hul magies. Tim Noakes kan bly wees hy’s nie familie nie, want trifle is gróót op die Kersfeesspyskaart!

Die oggend van 25 Desember word gewy aan Kersmusiek en die erediens by die kerk. Hier kan mens weer luister na die Kersverhaal en saam met medegelowiges prys, aanbid en dien. “Pa rum pum pum pum ” het intussen plek gemaak vir Somerkersfees:

Welkom o stille nag van vrede,
Onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die verlede
Oor sterrevelde ruis.

Kersfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

Mag Kersfees vir jou en jou geliefdes alles inhou wat mooi en kosbaar is.

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *