Lank lewe die liefde!

Hierdie naweek vier ons die liefde in vyfde rat. Sondag is immers Valentynsdag – die dag waarop liefde verjaar! Cloud number 9 sal talle jong verliefdes se bestemming wees met ‘n romantiese piekniek of avontuur op die spyskaart. En na die naweek spog ons evas weer met Cadbury-boude en Lindt-lovehandles. Mag tegnologie só vorder dat mens in die toekoms eetbare banting-sjokoladerose kry.

Maar wat is liefde? Is dit daardie bedwelmde skoenlappers-in-die-maag gevoel? (kom hier, Christian Grey!) Of is dit ‘n keuse van onbaatsugtige opoffering? ‘n Goeie vriend het eenkeer gesê jy’s nie vir iemand lief omdat hy of sy vir jou mooi is nie, maar daardie persoon is vir jou mooi omdat jy hom of haar liefhet. Dié definisie op die Internet vat liefde mooi saam: “Love is an unconditional commitment to an imperfect person. To love somebody isn’t just a strong feeling. It is a decision, a judgement and a promise.” Mense met ‘n meer humoristiese uitkyk op die liefde sal dit definieer as “Love is the seventh sense that destroys all the six senses and makes the person believe non-sense!”. ‘n Dogtertjie met die naam Rebecca het vertel dat, toe haar ouma met artritis gediagnoseer is en sy nie meer kon afbuk om haar toonnaels self te verf nie, haar oupa dié takie oorgeneem het, selfs al het hy ook later artritis in sy hande ontwikkel. DIT is liefde. Jou hart is seer as sy of haar hart seer is. Jy’s aangetrokke tot ander mense, maar jy besluit om getrou te wees aan jou geliefde. Jy aanvaar iemand se tekortkominge sonder om hom of haar te probeer verander, want dis deel van wie en wat daardie persoon is. DIT is liefde. Jy sal jou lewe vir iemand gee? Dis liefde!

My ouers is vanjaar 50 jaar getroud. My ma sê altyd sy’t nog nooit aan skei gedink nie, maar aan moord … baie! Om vir soveel jaar getroud te wees verg meer as net geduld, opoffering en ‘n goeie stel (vals)tande om die spreekwoordelike sewe sakke sout saam op te eet. Tog is my ouers se resep vir liefde baie eenvoudig. Hulle bid elke dag … en hulle doen dit saam. Liefde is 1 Korintiërs 13. Liefde is God. Liefde is die een skat wat vermenigvuldig deur deling. Ware liefde wil nie hê nie, dit wil gee. Hoop jou Valentynsdag is 50 shades of wonderful!

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *