’n Nuwe, voller jy …

  1. ‘n Nuwe jaar. ‘n Nuwe (voller) jy. Iewers tussen Kersfees en Nuwejaar het jy van ‘n peervorm in ‘n appelvorm verander. Jou beursie is platter as jou Cadbury-boude, Beacon-maag en Lindt-love handles.

Jy grawe in jou klerekas rond, opsoek na ‘n kledingstuk wat darem die ergste haelskade (ook bekend as selluliet) en ekstra rolle sal verbloem. “A-ha” besluit jy op die Guess-denim wat in 2016 nog mooi gesit het. Selfversekerd klim jy in jou gunsteling denim. Maar iewers tussen die knieë en die boude word die optrekaksie gebriek. Die denim het intussen in ‘n sellulietsokkie verander. “Dis die draairoomys op die strand en die tjoklits onder die Kersboom se skuld”, dink jy, want skielik sit Guess nie meer soos dit moet nie. Jy verstaan skielik hoekom dit Guess genoem word. Guess where all the extra parts come from? “Lyk ek vet in die denim?” vra jy vir manlief wat verby jou en jou ekstra dele stap. “Nee” en “ja” is nie aanvaarbare antwoorde nie. So hy kies die maklike uitweg en hou hom doof. Geen vrou wil in elk geval vet genoem word nie. Vet is iets wat hoort op biltong en ‘n varktjop. Vroue is nie vet nie. Ons is wel sekere tye van die jaar net “meer sigbaar” as ander.

Jy besluit om die denim maar eerder uit te trek. Dis in elk geval te warm. Jy en al jou ekstras klim terug in jou gunsteling pajamas. Die marteltog word voortgesit wanneer jy voor die rekenaar inskuif en google dat die biesies, bo-arms en boude bewe. “Dieet wat werk”. Net die gedagte aan tuna en slaaiblare laat jou ongemaklik op die stoel rond hop. Nie eens ‘n haas wat heeldag net blare eet het six-pack abs nie, besef jy. En die wit olifant in die sitkamer wat eers ‘n health walker was het veel beter nut sedert dit as ‘n rak ingespan word om die kinders se speelgoed en die wasgoed wat gestryk moet word te akkommodeer. Die diëte-webwerwe maak jou senuweeagtig. En honger. Jy is op Facebook. Terwyl jy na al jou vriende se vakansiefoto’s kyk besef jy jy’s nie die enigste een wat groter daar uitsien nie. Almal lyk uitgerus en gelukkig. Die glimlagte kanselleer die ekstra paar kilogramme uit. En dis tog al wat saak maak. Selfs in die woordeboek kom geluk voor gewig.

 

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *