Wat my pa my geleer het

My pa het ‘n baie spesiale plekkie in my hart, Bybel en selfoon. Want as ek hartseer is, troos hy my. As ek Bybel lees kyk ek in ‘n piepklein foto’tjie van hom vas (dit dien as my boekmerk), en as ek in die moeilikheid is, is hy op speed dial. Hoe dan anders? ‘n Pa is immers die een wat sorg dat sy dogters nooit die pad byster raak nie. “Pa” – die kleinste woordjie met die grootste verantwoordelikheid. Ek en my tweelingsussie, Danri, is baie geseënd en bevoorreg om ons pappa nog by ons te hê. Wat dit nog meer besonders maak is dat hy vanjaar sy tagtigste verjaarsdag vier en vir vyftig jaar met my ma getroud is.

My pa het my geleer kruip, maar gesê “as jy groot is moet jy wérk vir dit wat jy wil hê, en nié kruip nie.”

My pa het my geleer dat nie almal in die lewe Liewe Heksie of Liewe Lulu is nie, en dat Blommeland kaktusse ook huisves.

My pa het my geleer om my geld én my woorde te tel.

My pa het my geleer van noord, suid, oos en wes, maar dat ek self die rigting van my lewe moet bepaal.

My pa het my geleer dat die kortste pad na ‘n man se hart deur sy remote control loop, met SuperSport, MNet en DSTV as die hoofdis.

My pa het my geleer dat Bostik enige iets kan fix – van ‘n stukkende ketel tot ‘n stukkende hart.

My pa het my geleer dat grid, grout en great nie noodwendig dieselfde ding is nie.

My pa het my geleer ‘n man is ‘n bok en ‘n bok …

My pa het my geleer om nie altyd my sussie te blameer as net die helfte van die maan in die lug hang en ek sê sy het dit gebreek nie.

My pa het my geleer dat drome méér is as net prentjies in ‘n mens se kopkussing.

My pa het my geleer daar is altyd drie kante aan ‘n storie: My kant, jou kant en die regte kant.

My pa het my geleer die getrouste en goedkoopste troeteldier is ‘n spaarvarkie.

My pa het my geleer die mooiste vrou in die wêreld is my ma.

Op 19 Junie vier ons Vadersdag. Mag al die pa’s oorlaai word met liefde en omgee.

 

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *