Só verander ons ons land

Ek kry ‘n paar weke gelede ‘n telefoonoproep van my huishulp Enni. Haar buurvrou se dogter is verdwaal op die SUT-kampus. En skielik dink ek terug aan my eerste dag op die Kovsie-kampus in Bloemfontein. Ek en my tweelingsussie Danri kom van Daniëlskuil af en die kampus was amper so groot soos ons tuisdorp! Jy word gekonfronteer met groter klaskamers, groter geboue, groter titiels, groter bedrae geld en groter verantwoordelikhede. Dis oorweldigend om die minste te sê!

Portia (die verdwaalde student) het aansoek gedoen om toelating tot die Somatologie-leerprogram aan die SUT. Sy weet nie waarheen om te gaan om te hoor of haar aansoek suksesvol was nie. Enni is nog méér verdwaal na my selfoon-rigtingaanwysings en sy beeïndig toe maar die gesprek met : “Mme, ek sal vir haar sê sy moet net op die kampus vra vir Mardi.” Ek lag stilweg in my mou, want daar is meer as ‘n duisend personeellede werksaam op ons kampus. Maar die hoop beskaam nie …

Twee dae later bel Portia my. Dis Woensdag en ons is besig met registrasies van ons eerstejaarstudente vir die leerprogram, N.Dip.: Taalpraktyk. Na twee ure se oor-en-weer bellery sien ons mekaar uiteindelik raak in die Boet Troskiesaal. Portia wil weet of sy Somotalogie kan studeer en of haar aansoek suksesvol was. Sy wys vir my haar matrieksertifikaat. Haar punte lyk goed, maar wat my nog méér opval is haar vriendelike en professionele geaardheid. Sy hoort in die Somatologie eerstejaarsklas, dink ek. Ek vat haar na die Fakulteit Gesondheidswetenskappe se fakulteitsbeampte en hou duimvas dat sy haar keuringstoets geslaag het.

Nog ‘n paar dae later kry ek ‘n SMS van ‘n vreemde nommer. “Good afternoon Ms Delport. It’s Portia, the girl that Ms Enni sent to you yesterday. I am texting you to let you know that I was accepted into the Somatology programme.” Ek is bly en trots tegelykertyd al ken ek Portia net vir ‘n paar minute tydens Verdwaalkunde 101. Ek kon sien hoe vreeslik graag sy Somatologie wou studeer. Nie net wil sy ander mense mooi maak nie, sy wil ook haar deeltjie bydra om Suid-Afrika in ‘n mooier en beter plek te omskep. Saam met Portia en duisende ander studente in Bloemfontein verander ons ons land een dag op ‘n slag. Ons leer, ons onderrig. Wat doen jy?

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *