Stad na jou hart

Dis altyd lekker om na die ou(er) mense se stories te luister, veral oor die dae toe húlle jonk was. My pa deel die afgelope naweek ‘n paar kosbare herinneringe van Bloemfontein sestig jaar gelede.

Universiteitslewe was ánders as wat ons dit vandag ken. Daardie dae was daar net twee dameskoshuise op kampus, Huis Kestell en Emily Hobhouse, en twee manskoshuise, Vishuis en Reitz Kamerwonings. En die gemengde mans- en dames stadskoshuis. Die manne het gereeld vir die dames gaan sêr en ‘n groot geleentheid daarvan gemaak! Die Intervarsity tussen Kovsies en Pukke was een van die hoogtepunte op die universiteitskalender met ‘n trein wat spesiaal gereël is vir dié jare wat Kovsies in Potchefstroom teen die Pukke moes gaan meeding.

Daar was nie daardie jare Ster Kinekor en Nu Metro fliekteaters in groot inkopiesentrums soos ons dit vandag ken nie. Stadsflieks in die Capital, Grand, Plaza, Ritz en Monte Carlo was baie gewild waar films soos “Daar doer in die Bosveld”, “Spartacus”, “Ben-Hur” en “Gone with the wind” vertoon is. Die stadsflieks was ‘n fênsie affêre … die mans moes ‘n baadjie en das dra, terwyl die dames ‘n rok, sykouse en hoëhakskoene moes aantrek!

Mans het dames gewoonlik trakteer met ‘n uitstappie inryteater toe. Die Veld Inry op die ou Brandfordpad asook die Panorama naby Kelly’s View was dié kuierplekke vir jongmense. Ook die padkafees van toentertyd was baie gewild. Onthou jy die Dairy Denn by Noordhoek? Met ‘n skinkbord wat aan jou motor se venster vashaak kon jy lekker smul aan jou melkskommel en vienna en chips.

Window shopping op ‘n Saterdagaand was niks vreemds nie. Winkels soos Sonop en Fichards het die mooiste vensteruitstallings gehad. So kon jy jou verkyk aan al die winkelpoppe deur Maitlandstraat op- en St. Andrewstraat af te stap. OFS Tearoom was bekend vir sy lekker melkskommels en jukebox waar jy vir ‘n sjieling (10 sent) drie plate kon kies en laat speel.

Die Tweetoringkerk was Saterdaemiddae vol bespreek met troues wat 20 minute uit mekaar geskeduleer is. Pasgetroude paartjies moes by die sydeur uitstap terwyl voornemende bruidspare by die hoofdeur inkom. Naval Hill was tóé alreeds Euwel Heuwel, maar in ‘n ander sin van die woord …

Die Rosestad is laaaaankal nie meer ‘n tiener nie … daarvan kan die stad se 170 bestaansjare getuig. Bloemfontein het karakter. Punt. En baie punte op die Curriebeker-ranglys. Hou ons Cheetahs hierdie Saterdag dop. In Bloemfontein!

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *