Oos, wes, Bloemfontein bes!

Ek was onlangs in die Kaap (vir plig, maar darem ook plesier).  Ek was deel van ‘n groep van 150 akademici van 11 verskillende lande wat die Internasionale Konferensie oor Nagraadse Studieleiding by Spier, Stellenbosch moes bywoon en ‘n navorsingsvoordrag lewer.  Die Maandag wat ek daar aangekom het was blou … Bloubulblou.  Eers kon ek nie my tas kry nie.  Daarna vergeet die hotel se vervoerdiens om my te kom oplaai.  Die aand toe ek my selfoon wou laai, kom ek met ‘n skok agter dat ek net die helfte van die selfoonlaaier ingepak het.  Die kopgedeelte lê toe nog in die muurprop by die huis … in Bloemfontein!  Die res van die week was hemels en die Kaap was behoorlik Hollands.

Ná die konferensie sluit my tweelingsussie, Danri, by my aan en ons kuier vir ‘n paar dae by goeie vriende en oudkollegas.  Hulle bederf ons behoorlik met uitstappies na ‘n hele paar wynplase, ‘n besoek aan die handdoekfabriek en Safari-winkel in Wellington, die Taalmonument in die Paarl, die Company’s Garden in Kaapstad (waar ons vir die eekhorinkies grondboontjies voer), ‘n vlooimark in Houtbaai en middagete in Kampsbaai.

Met elke besoek aan die Kaap verloor ek my hart op Tafelberg, die Twaalf Apostels en Bloubergstrand.  En Merlot.  Maar Mango bring my elke keer terug na realiteit.  Toe die vliegtuig se wiele die aanloopbaan tref, besef ek Bloemfontein is my tuiste.  Dis hier waar ek hoort – tussen my studente, kollegas, vriende en familie.  Wie wil in elk geval twee uur lank werk toe ry, douvoordag die huis verlaat en vanaand láát by die huis kom?  Die Kaap is ‘n wonderlike vakansiebestemming, maar dis nie waar ek wil bly nie.

Ons het wel nie die berg, see of wynlande in Bloemfontein nie, maar ons het genoeg van alles.  En ons het mekaar.  Vir diegene wat sê daar gebeur nooit iets in Bloemfontein nie … hou ons dop.  Op 22 April maak ons ons huise, harte en hande oop om hier, saam met honderde duisende Suid-Afrikaners, ‘n nasionale biddag, onder leiding van Angus Buchan, aan te bied.  Mense van regoor Suid-Afrika word genooi om die geleentheid by te woon – van Tzaneen tot Kaapstad, van Upington tot Durban.  Ek hoop jy is saam met my opgewonde oor hierdie groot geleentheid wat gaan plaasvind op die plaas Wilde Als buite Bloemfontein … die grootste nasionale biddag nóg.  Dis tyd …

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *