Die nostalgie van Bloemskou

Die afgelope Bloemskou het herinneringe van kleintyd terug gebring … herinneringe waaroor ek kinderlik opgewonde én nostalgies raak.

My pa is nie ‘n spur-of-the-moment mens nie.  Nee … dinge word weke (selfs maande) vooruit beplan.  Destyds is daar dus lánk vooruit beplan en begroot vir Bloemskou.  Vir plaasjapies soos ek en my sussie was die Bloemskou ‘n hoogtepunt op die Daniëlskuil jaarkalender.  Teen 05:00 was die motor gepak en kinders (ons was darem net twee ewegetalle) en kilometers Bloemfontein toe getel.

Nege-uur was ons motor reeds geparkeer op die skougronde se parkeerterrein en kon ons nie wag om die skou met al sy skakerings van pret en plesier te verken nie.  Ek en sussie het met Bloemskou die hele jaar se opgehoopte stoutgeit ingehaal. (Platriem en tranedal was veilig in die huis op Daniëlskuil, en vir die duur van Bloemskou was ons boude veilig.)  Ons was in ons element.  Gil … gryp … kou … klouter … babbel … baljaar … die hele dag deur.

Die toffie-appels (veral die rooies) was ‘n móét.  So ook die spookasem, draairoomys en ‘n rit met die spooktrein deur die pretpark.  Ons kon ons vergaap aan die narre op stelle – sommige sommer drie meter lank!  Die Skotse orkes se omies met die kort rompies aan het gesorg vir groot vermaak – met omstanders wat wens daar kom ‘n sterk Suidooster op om daai rompies op te waai!  Die SAUK se nuusleesoudisies was ‘n senutergende affêre vir aspirant-nuuslesers en OFM se ateljee by die skou was die bymekaarkomplek vir talle nuuskieriges … “Waar is Manie?”  Die laaste Saterdagaand van die skou was die stampkarre die groot trekpleister vir oud en jonk.

Bloemskou het vanjaar sy 134ste bestaansjaar gevier.  Die rooi toffie-appels, narre op stelle, spooktrein en Skotse orkes het intussen plek gemaak vir serpe, stewels, Suid-Afrikaanse musiektalent en smart– en slim foon-gadgets.  Ek staan vir ‘n oomblik stil by een van dié stalletjies en soek ‘n nuwe selfoonsakkie vir my foon … sonder sukses.  Crackberry sal maar die winter koud moet slaap.

Van die uitstallers kom parkeer al vir ‘n hele paar dekades hul sleepwaentjies en karavane op dieselfde plek.  Stap jy deur die wandellane en sale, herken jy die gesigte.  Dit voel soos familie.  En dis wat van Bloemskou so lekker geleentheid maak.  Dit proe soos familie.

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *