Kyk nuut na nonsens!

Eksamentyd.  Kopkraptyd.  Nie net vir studente regoor die land wat tans hul kennis en vernuf in die eksamenlokaal moet ten toon stel nie, maar ook vir dosente wat die rolle van eksaminatore en moderatore moet vertolk.  Merk.  Modereer.  Merk en modereer.  Rooipen.  Groenpen.  Na ‘n week … rooi- en groenpenvergiftiging.  Sommige vrae merk makliker as ander, soos veelvuldigekeusevrae.  Of ‘n skoon bladsy.  Langvrae merk die moeilikste en ‘n mens kom gou agter daar is eintlik ‘n fyn lyn tussen common sense en nonsense.  Dit wat op die oog af na nonsens lyk, begin later sin maak – in so ‘n mate dat jy die memorandum en jou eie insigte begin bevraagteken.

My derdejaar Taaldinamika-studente het sopas eksamen geskryf oor Media Etiek.  Die vak bevat ‘n sterk joenalistieke komponent en ek vra altyd (aan die einde van die vraestel) ‘n algemenekennisvraag.  Tien kort vrae. Tien punte.  Tien punte wat ‘n student met ‘n onderskeiding kan laat slaag … of met vlieënde vaandels kan laat druip.

Die volgende antwoorde het my laat regop sit en skaterlag.  Vraag:  Wie is die openbare beskermer?  Antwoord:  Thuli Madonsela.  Vraag:  Wie is die Minister van Finansies?  Antwoord:  Gill Marcus.  Vraag:  Wie is die pers ombudsman?  Antwoord:  Hlaudi Motsoeneng.  Vraag:  Wie is die hoofsweep van die ANC?  Antwoord:  Nelson Mandela of Jacob Zuma.  Vraag:  Wie is die kanselier van die SUT?  Antwoord:  Mnr. Henk.  Vraag:  Wie is die manswenner van die Australiese Ope 2017?  Antwoord:  Usain Bolt of Wayde van Niekerk.  Vraag:  Wie is Mej. Suid-Afrika?  Antwoord:  Rolene Strauss.  Of nee wag … Chuck Norris.  Vraag:  Wie was die eerste Suid-Afrikaner in die ruimte?  Antwoord:  Jan van Riebeeck.

Al het dié antwoorde nie punte vir die studente in die sak besorg nie, het dit my tog met nuwe oë na ons wêreld laat kyk.  Thuli het die mense laat onthou van wat sy onthul het, Gill Marcus is dalk ons volgende Minister van Finansies?  Madiba sal vir ewig in ons harte gegraveer wees, Prof. Henk de Jager is ‘n mens-mens, Usain en Wayde sal vir hul tennisrakkette moet aanskaf.  Chuck Norris sal grimering moet begin dra.  En Jan van Riebeeck se drie skepe het vir al wat ons weet, eers ‘n draai op die maan gemaak voordat hy voet aan wal gesit het.

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *