Wat my Ma my geleer het

Met Moedersdag wat ons eerskomende Sondag vier, wil ons graag hulde bring aan al die ma’s wat ons lewens verryk deur hulle daarwees, saamwees en ma-wees. Ek is bevoorreg en geseënd om my mamma vir 40 jaar steeds by my en my tweelingsussie, Danri, te hê. Ek deel graag ‘n paar lewenslesse wat ek by haar geleer het.

My ma het my geleer dat die lewe uit soet, suur, sout en jalapeno poppers bestaan.

Sy het my geleer van binnenshuise versiering en argitektuur … deur pragmeubels uit broodkorsies te bou.

Sy het my geleer die pad na ‘n man se hart(aanval) loop deur sy maag en dat “Kook en Geniet” eintlik moet lees: “Ma’s kook en kinders geniet”, maar dat die beste resepte vir ‘n vrugtevolle lewe uit die Bybel kom.

My ma het my geleer dat “common sense” meer waardevol is as enige meesters- of doktorsgraad en dat geld nie goeie maniere of styl kan koop nie.

My ma het my geleer dat stilstuipe net tot die dooies beperk is, en dat mens jou verskille moet uitpraat … selfs al is al jou gratis minute laaaankal op.

Sy het my geleer dat Tranedal en Platriem meer effektief is as die Stoute Stoel en “Time out”-terapie, en dat ‘n wasgoedpennetjie wasgoed op die draad en ‘n gesnork uit die slaapkamer hou.

Sy het my geleer dat ‘n houtlepel ewe gemaklik in ‘n pot as in ‘n potjie pakslae pas.

Sy het my geleer om nooit te gaan slaap voordat die laaste pot of pan nie gewas is nie, want wat as daar iets deur die nag met my moet gebeur en my nalatenskap is ‘n wasbak vol vuil skottelgoed?

Sy het my geleer dat die wenstreep na die Ewige Lewe belangriker is as die wenstreep op die atletiekbaan.

Sy het my geleer dat die liefde van ‘n ma alle vorme van liefde oorskry: “Trek die kind warm aan, want die ma kry koud!”

My ma het my geleer van “asseblief” en “dankie” en dat ‘n glimlag en drukkie universeel is in elke taal. (Suid-Afrika het meer drukkies en dankies nodig.)

Sy het my geleer om toe oë te slaap en soen, maar om oopoë te droom en bid.

Mag elke mamma ‘n besonderse lekker Moedersdag hê, propvol liefde, bederf en seën! Ons waardeer julle en is baie lief vir julle!

 

 

Share Button

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *